Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 27 SEPTEMBER 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za. Klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie, en vorige bulletins, kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

Gottfried Kemmer, ZR6WWA, se sleutel het op 16 September stil geword. Ons innige meegevoel aan sy eggenote Maria, familie en vriende.

(Pouse)

In die nuus vandag:

SARL STEL BESONDERHEDE VAN ’N TUISKONSTRUKSIEKURSUS BEKEND.

DEPARTEMENT VAN KOMMUNIKASIE HET VOORGESTELDE FREKWENSIESPEKTRUMBELEID UITGEREIK.

DATUMS VIR 2010 SARL GELEENTHEDE

SUMBANDILASAT MAAK VORDERING

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SARL STEL BESONDERHEDE VAN ’N TUISKONSTRUKSIEKURSUS BEKEND.

Die SARL sal ’n reeks tuiskonstruksiekursusse aanbied, die eerste waarvan in Gauteng op 21 November 2009 by die NARC. Datums vir Durban, Kaapstad en Port Elizabeth is op die webblad geplaas.
Die kursus is ontwerp om die volgende vaardighede oor te dra: Hoe om gedrukte stroombane vir oppervlakgemonteerde komponente te maak, hoe om die komponente te monteer en hoe om industriële kwaliteit gesigplate en etikette te maak.
Die tegnieke wat gebruik word is oorspronklik en sal ’n tuisprojek omskep in ’n kwaliteit item. Sommige van die tegnieke en metodes in die kursus word deur industriële elektronikafirmas gewaardeer en beskerm.
Daarby sal ’n CD voorsien word met sagteware vir die ontwerp van kringdiagramme en borduitleg tesame met ’n praktiese demonstrasie wat ‘n stroombaan in ’n eersteklas industriële kwaliteitprojek sal omskep. Deelnemers sal ook materiale ontvang om gedrukte stroombane te maak en plat komponente te monteer. Kursusfooie en registrasiebesonderhede kan gevind word op www.sarl.org.za, kies RTA onder “Activities” op die tuisblad. Slegs 20 deelnemers kan op elke kursus geakkommodeer word en sal op ’n eerste kom basis aanvaar word.

DEPARTEMENT VAN KOMMUNIKASIE HET VOORGESTELDE FREKWENSIESPEKTRUMBELEID UITGEREIK.

Op 18 September het die Departement van Kommunikasie die voorgestelde frekwensiespektrumbeleid vir kommentaar gepubliseer. Die finale weergawe van hierdie beleid sal bepaal hoe spektrum in Suid-Afrika bestuur gaan word en sal OKOSA se riglyne wees. Die beleid sal ook die bestuur van die amateurspektrum in die toekoms beďnvloed. Die SARL sal die dokument bestudeer en ’n voorlegging aan die DVK voorberei waarin versoek word dat die amateurspektrum uitgelig word vanweë die gemeenskaplike belang daarvan in die voorsiening van kommunikasie tydens noodsituasies. Die beleid stel ook riglyne vir kostebepaling van spektrum.
Radioamateurs in Suid Afrika word genooi om die dokument te bestudeer en insette te lewer aan die SARL vir moontlike insluiting in die voorlegging wat deur die SARL as nasionale liggaam vir amateurradio voorberei word. Die Staatskoerant kan afgelaai word vanaf www.sarl.org.za klik op “publications” en kies ARMI. Die spertyd vir voorleggings aan die SARL is 7 Oktober 2009.

DATUMS VIR 2010 SARL-GELEENTHEDE

Datums vir die 2010 RTA- en PIC- kursusse is op die SARL webwerf gepubliseer. Skryf hul in u dagboek. Besonderhede oor wanneer besprekings vir die PIC kursusse open sal vroeg in Januarie aangekondig word. Die datums kan op www.sarl.org.za gevind word op die RTA-blaaie.

SUMBANDILASAT MAAK VORDERING

Die grondbeheerstasie maak goeie vordering met die nagaan van die onderskeie stelsels op die satelliet. Radioamateurs sal egter nog moet wag vir die aktivering van die amateurloonvrag.
Paterson Lugmagbasis in die VSA het Sunspace ingelig dat hulle verkeerdelik vir Sumbandilasat as Fregat-IRIS geďdentifiseer het. Hulle is deel van die volgingsnetwerk wat verantwoordelik is vir die identifisering van meer as 20 000 voorwerpe in wentelbane om die aarde. Die span het tot verlede Donderdag Fregat-Iris (35 867)gevolg eerder as SumbandilaSat (35 870).
Nadat die TLE-inligting gekorrigeer is, is kommunikasie met die satelliet meer bestendig en betroubaar wat die aktiveringsproses sal bespoedig. Die elemente en op datum inligting word gereeld op www.amsatsa.org.za geplaas.

LAASTE KANS OM U SARL LEDEGELD TE BETAAL

Die 2009/2010 SARL-ledegeld was op 1 Julie betaalbaar en die finale sperdatum is 30 September. Na hierdie datum sal lidmaatskapvoordele opgeskort word. Indien u nog nie u ledegeld betaal het nie, doen dit asseblief binne die volgende paar dae. Indien u na die sperdatum betaal sal u die ononderbroke lidmaatskapstatus wat u opgebou het verloor. Tans is ledegeld slegs R340. Dink daaraan, vir minder as R1 per dag kan u die nasionale liggaam steun wat na die belange van amateurradio in Suid Afrika, en deur sy IARU-lidmaatskap, ook internasionaal, omsien.
Bel Maandag vir Mariska by 011 675 2393 of stuur ’n e-pos na admin@sarl.org.za indien u faktuur- of bankrekeningbesonderhede benodig.

BESOEKE AAN DIE SARL-KANTOOR

Dit gebeur van tyd tot tyd dat u die SARL-kantoor moet besoek en daar is niks meer frustrerend as on die reis te beplan, by die NARS aan te kom en niemand daar te vind nie.
Hoewel ons poog dat daar altyd iemand tydens ons normale kantoorure, wat Maandae to Donderdae vanaf 8:30 tot 16:00 en van 8:30 tot 11:00 op Vrydae is, op kantoor is, gebeur dit soms dat Mariska om een of ander rede op verlof is.
Ons versoek dat voor u besluit om die reis aan te pak, u eerstens die kantoor bel by 011 675 2392 om seker te maak dat Mariska daar is en u sal kan bystaan.
’n Toesluitkassie sal binnekort by die voordeur van die kantoor aangebring word waarin u enige items vir ons aandag kan laat.

SUKSESVOLLE HAMNETOEFENING

Die Rampbestuur Spesialiskommunikasievrywilligers, deel van Hamnet Gauteng-Suid, het met welslae deelgeneem aan ’n oefening waartydens ’n groot vloed in Kempton Park nageboots was. Die oogmerk was om nuwe lede te help verstaan watter tipes inligting benodig word, om bondig te wees en slegs op die lug te kom wanneer die beheersentrum die betrokke stasie roep.
Howard, ZS6ZS, het die Metro se mobiele beheereenheid binne ‘n halfuur na die oproep afgelewer. Chris, ZS6COG, en Francois, ZR6COI, het ’n tweede beheerpos by die Springs Rampbestuursentrum binne 15 minute geaktiveer. Binne een uur was ’n gesamentlike operasionele sentrum by die Birchleigh Mediese Sentrum opgestel. Die Hamnetspan het HF-, BHF- en UHF-kommunikasie binne 30 minute na hul aankoms bewerkstellig.

KOMPETISIENUUS

Die tweede been van die SARL se 80 meter QSO-geselligheid sal Donderdagaand 1 Oktober vanaf 19:00 tot 22:00 SAT op die lug wees. Dit is 'n kompetisie vir spraak alleen met werking tussen 3,600 tot 3,650 en 3,700 tot 3,800 MHz.
U roepsein, n RS-verslag en 'n opeenvolgende reeksnommer beginnende by 001 word uitgeruil. Puntetelling is 10 punte per kontak met 'n plaaslike stasie en 15 met 'n stasie buite Suid-Afrika. Logs moet teen 16 Oktober versend word na die Durban Amateurradioklub, Brownleeplek 17, Bluff, Durban, 4052, of per e-pos na zs5lp@sharksden.co.za.

Die voorlopige uitslae van 3 kompetisies is bekend gemaak. Die volledige lys is beskikbaar in HF Happenings 372.

Boland 40 Meter Naelloop:

1ste Ettienne Vosloo, ZS1AX, 56 punte;
2de Jan Botha, ZS4JAN, 50 punte;
3de Philip Verster, ZS1DV, 43 punte.

SARL 40 Meter Mobiele Kompetisie:

1ste Gehard Coetzee, ZS3TG, 477 punte;
2de J F Olivier, ZS5JP 342 punte;
3de Tienie Herbst, ZS6MHH, 278 punte.

SARL HF Foonkompetisie:

Multi-operateur Stasies:-

1set David Hutchinson, 3DA0DJ, 423 punte;
2de Bloemfontein Weermag ARK, ZS4CD, 326 punte.

Enkeloperateur Stasies:

1ste Jan Botha, ZS4JAN, 243 punte;
2de Gary Potgieter, ZS5NK, 188 punte;
3de Daniel Mans, ZS3D, 167 punte.

Die beste telling op 'n enkelband - Rosalie Van Loggerenberg, ZR2RL (ZS2DN), 141 punte op 40 meter.

Na die SARL-HF-Foonkompetisie, sal Reel 4 en 5 van die Algemene Reels streng gevolg word tydens die nagaan van logs en opsommingsblaaie. Enige log wat teenstrydig is met hierdie reels, sal herklassifiseer word as 'n kontrolelog.

KLUBNUUS

Na die afloop van die AJV van die Oosrand Radioklub op 19 September 2009, stel die klub graag die nuwe komitee wat die Oosrand Amateurs tydens 2010 gaan dien bekend, die lede is.

Voorsitter, Francois Jacobs, ZR6COI;
Ondervoorsitter en Jeugsake, Marius Mynhardt, ZS6MGM;
Sekretaris, Charlotte Miller, ZU6CEM;
Tesourier, Andre van Tonder ZS6HE;
Bulletins, Judy Pretorius ZR6POP;
Spesiale Projekte, Margolet McKenzie, ZR6MRG;
Spesiale Projekte, Brian McKenzie, ZR6BNM;
Snuffelmarkte, Francois Botha, ZR6COI;
QSL-bestuurder, Mitchel Mynhardt ,ZS6YH;
Webmeester Greg Miller ZS6GDM;
SARL Openbare Inligtingsbeampte, Ben Homan, ZR6BEC;
Herhalerbeampte Chris Gryffenberg, ZS6COG.

Die Oosrandklub spog nou met meer as 50 lede en nooi alle amateurs in die Oosrand om in hulle gereelde aktiwiteite deel te neem wat aan almal oop is vir lede en nie-lede.

Op Saterdag 3 Oktober 2009 gaan die Oosrand Snuffelmark by die klubhuis in Plantation Road, Springs, agter die Burgersentrum, plaasvind.
Hulle is QRV op 145,675 MHz, die Oosrandherhaler.
Die snuffelmark begin om 08:00 en sluit af om 11:00.
Tafelhuur is R20,00 elk en bespreking is noodsaaklik. Kontak vir Francois by 079 932 7131 om u staanplek te bekom.
Daar is baie parkeerplek en sitplek beskikbaar. Verversings sal te koop wees. Sluit aam by die snuffelmarkpret.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds op baie laag is. Die goeie nuus is dat twee sonvlekke gelyktydig hulle verskyning gedurende die week gemaak het. Dit is die eerste keer in drie maande dat dit gebeur het. 20 en 40 m is die beste keuses vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na die Ooste en die Weste goed wees. Gedurende laatmiddae en die aande gaan toestande na Europa goed wees. Gedurende die oggende is daar moontlike kanse om kontakte met Australië te maak. Kontakte met Nieu-Zeeland gaan uitdagend wees. Daar ook 'n moontlikheid van 20 en 40 m kontakte met Brasilië gedurende die aande.
Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande lewer.
Saans is 80 m die beste keuse.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

1 Oktober – Tweede been van die SARL se 80 meter QSO-geselligheid;
3 Oktober - Oosrand Snuffelmark;
6 Oktober - Logstate vir Erfenisdagnaelloop moet in wees na riaanzs4pr@gmail.com.
7 Oktober – kommentaar op konsep frekwensiespektrumbeleid moet in wees;
16 Oktober – Logstate vir die tweede been van die SARL se 80 meter QSO-geselligheid moet in wees;
21 November – Tuiskonstruksiekursus, Gauteng by die NARS.

SARL-Nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Plaas nuusberigte, indien moontlik, in beide Afrikaans en Engels alleenlik op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.
Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n podcastuitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.
U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Roger ZR3RC opgestel en deur George, ZS6NE, geredigeer is.
Hierdie is die laaste bulletin wat deur Roger opgestel is aangesien hy volgende jaar verder gaan studeer. Ons innige dank aan Roger vir sy vrywillige diens aan amateurradio as lid van die nuusspan. Ons beste wense vergesel hom op die pad wat hy gaan inslaan.
Dankie dat u geluister het. 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003